Dit was drie giggelende, senuweeagtige meisies wat die SAUK-gebou in Seepunt met sakke vol persente betree het op 15 September. RSG het van ons te hore gekom en besluit om 'n onderhoud met ons te voer oor ons wonderlike besigheid. Nouja, mens se nie nee vir vry publisiteit nie, veral nie met 'n luistertal van 1.9 miljoen nie. Ons maak ons mooi, probeer besluit wie gaan wat se, Corern besluit net daar sy kan nou glad nie meer onthou hoe praat mens Afrikaans nie so sy gaan Engels praat.
Ons word in die kantien ontmoet deur die vriendelikste meisiekind en sy besluit om die onderhoud sommer net daar te doen. Ons kyk uit die veld geslaan na mekaar - wat dan nou van die mikrofone, rooi ligte, klankdigte ateljees en oorfone waarvoor ons onsself nou so voorberei het? Blykbaar is dit gladnie nodig nie. Ons begin ontspan en grappies maak. Dit gaan glad nie so erg wees as wat ons gedink het nie. Die vriendelike meisiekind haal 'n enkele mikrofoon uit 'n houer, maak die musiek in die kantien stil, sit ons op 'n ry en druk die mikrofoon onder my neus en net daar vergeet ek ook hoe praat mens Afrikaans en weet nie wat "tongue in cheek" in my moedertaal is nie. Corern aan die einde van die dag praat toe die suiwerste Afrikaans van ons al drie en ek dink Carin het die meeste sin gemaak, maar so kom ons toe deur die storie en wys ons mooi geskenke en die meisiekind is baie beindruk met ons goed.
'n Week later is ek op pad Plettenbergbaai toe met my ma en dogter en net toe dit mooi tyd is vir die onderhoud om uitgesaai te word, stop ons vir ontbyt in Heidelberg. Gelukkig het ouma haar draagbare radio saamgebring en so sit ons toe in die Wimpy met ons ore styf teen die radiotjie gedruk en luister na onsself terwyl die kelnerinne vir ons snaaks kyk en wonder wat so interessant kan wees.
'n Maand later word ons gekontak om 'n onderhoud op televisie te doen vir SABC News International. Ek sit alweer in Plet en Carin en Corern berei hulle toe maar voor vir die groot okasie. Elkeen het 'n afdelinkie waaroor hulle gaan praat en die senuwees knaag. Hierdie is big time en die mense is aansienlik minder vriendelik as die RSG meisiekind. En toe laat val hulle die bom dat net Carin alleen die onderhoud gaan doen. Paniek is aan die orde van die dag en die arme Carin word soos 'n lam ter slagting gelei terwyl Corern innerlik 'n sug van verligting gee.
In die ateljee gekom, word sy vertel dat die onderhoudvoerder in Johannesburg sit, sy kry 'n mikrofoon in haar een oor, moet na 'n swart skerm kyk en praat asof die mens daar voor haar sit.
Nog voor sy lekker op dreef kan kom met die geskenke wys en vertel van wie ons is, word sy gese om in 'n kamera te kyk totsiens te se en net daar is dit verby.
Ons weet nie of die onderhoud enigsins bruikbaar is nie en voel maar afgehaal oor die hele ondervinding. Ons kry 'n week later 'n e-pos om te se dit was glad nie so erg as wat Carin gedink het nie en dat dit wel uitgesaai gaan word, weet nog net nie wanneer nie.
Vir eers is ons media blootstelling nou verby, maar moenie verbaas wees as jy dalk een van die dae 'n tydskrif oopmaak en ons daar sien pryk nie - met 'n vrag geskenke om ons natuurlik. Ons het nou 'n voorsmakie van fame gekry and we like it! Is daar dalk iemand anders wat belangstel om 'n onderhoud met ons te doen? Ons vra nog nie geld daarvoor nie, is ten volle tweetalig en vreeslik ervare.
Wednesday, October 8, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)

0 comments:
Post a Comment